Grusame plaasmoorde – 5 in arres – oorsese koerante versprei nuus

Die grusame moord op twee sestigjarige plaasbewoners in Boshof in die Vrystaat wat oorsee opslae gemaak het, het weereens internasionale nuus gehaal met die arrestasie van vyf verdagtes. Lt-genl Sempe, provinsiale Polisie kommissaris het met ‘n spesiale taakspan van die Hawks en SAPS die vermeende moordenaars vasgetrek.

Sakkie van den Berg (67) en sy vrou Ina (61) se huis is gedurende die aanval geplunder nadat hulle wreeds aangerand is en uiteindelik doodgeskiet is. Die verdagtes, tussen die ouderdomme van 28 en 44, het op Mandela Dag in die hof verskyn op aanklage van moord, besit van ongelisensieerde vuurwapens, roof met verswarende omstandighede, diefstal en inbraak. Almal is in aanhouding en sal aanstaande week om borgtop aansoek doen. ‘n Sesde verdagte word steeds gesoek.

Dieselfde polisie-eenheid het ook ses ander moordenaars in nog ‘n plaasaanval vroeër vanjaar vasgetrek en met uitstekende polisiewerk verseker dat die ses mans lewenslank agter tralies sal bly vir plaasmoorde in Vryheid in 2016.